‘n Groep gebruikers en natuurliefhebbers van die Heuningberg-omgewing bokant Bredasdorp het vroeg in 2018 bymekaar gekom met die oogmerk om die fietsry- en staproetes in die Heuningberg Natuurreservaat en aangrensende omgewing volhoubaar in stand te hou en uit te bou.

 

Hierdie area aan die suidpunt van Afrika bied unieke fynbosplantegroei (tuiste van o.a. die endemiese Bredasdorp lelie – Cyrthanthus guthria, verskeie proteas en orgidieë) en veral ook uitsigte van die omgewing aan die gebruikers van die stap- en fietsryroetes. Die gevoel van die groep was dus dat dit noodsaaklik is om die roetes en omgewing te bewaar vir almal wat dit tans en ook in die toekoms wil geniet.

 

Die groep poog om alle belangstellendes en gebruikers (fietsryers, stappers en drawwers) aan te moedig om betrokke te raak en as lid by die Heuningberg Bewaringsgroep aan te sluit. Daar is ook ‘n opsie aan besoekers van buite die Bredasdorp-omgewing om dagpermitte uit te neem. Die fooie sal aangewend word vir die noodsaaklike instand-houdingswerk van die paadjies wat deur die fietsryers en stappers gebruik word. Verskeie plaaslike instansies het ook reeds as borge betrokke geraak.

 

Die Kaap Agulhas Munisipaliteit is geken en ook genader om te help met instandhouding van die roetes. Daar is reeds ook een permanente persoon aangestel en daar word ook tydelike werkers gebruik om die paaie na te gaan en instandhouding- en herstelwerk, waar nodig, uit te voer. Bruggies is reeds herstel op sommige roetes. Die werkers word ook opgelei om indringerplante uit te roei.

 

Kaarte van die fietsryroetes is beskikbaar en word saam met permitte uitgereik. Mettertyd sal kaarte van die uitgebreide staproetes ook beskikbaar gestel word.

Borge